Die begin van Lea

Wednesday, August 17, 2016


Omtrent hierdie tyd verlede jaar was ek in die valleie van die Oos-Kaap, iewers in die platteland. Ek en Johan van Landbou Weekblad het oor land en sand gesels, deels omdat ons albei Afrikaans was, deels omdat ons sommer net dadelik oor die weg gekom het, deels oor die bitter lang paaie wat ons gery het en deels omdat ons eerder die middag in die son gelê het as om die seremoniele samp en hoenderpote te eet wat vir die event wat ons daar voor was voorberei was.

Een van die onderwerpe waaroor ons gepraat het was dié van kinders. Ek, wat amper-amper aan 30 raak en hy wat alreeds vyf jaar nader aan 40 is. Nee wat, sê hy, kinders is nie vir hom nie, sy gees is net te vry. 

Ja, het ek saam gestem, kinders is nou waaragtig vir die voēls. Maar eintlik was dit my verdedigingsmeganisme nadat ek jare tevore moes hoor ek sal nooit kinders kan hê nie. Ek het my hart probeer beskerm, want om Ma te wees is mos nog enige 13-jarige meisie se droom en ek het elke jaar sedertien daarop gebou.

Maar ek het 'n gevoel gehad. Ek het immers hormone gevat wat die proses moes aanhelp.

Intussen vlieg ek terug Johannesburg toe met 'n helse piepie en knyp al die pad van die Oos-Kaap af, want sodra ek land gaan ek vir Flip apteek toe vat dat ek 'n toets kan koop. Sommer by die lughawe apteek, langs die ou Keg. 

Na groot verligting stap ek met die toets na Flip toe. Ek wys hom die een baie helder lyntjie en die een, amper nie sigbare lyntjie. Jammer, sê ek, ons is nie swanger nie. Maar Flip haal die papiertjie uit die boks uit en lees toe dat as daar 'n tweede lyntjie is, maak nie saak hoe dof dit is nie, as daar 'n tweede lyntjie is, is jy swanger.

Ons stap toe nou die lang pad terug kar toe en in die tyd begin die idee nou deurdring. Toe kry ek 'n paniekaanval! In die lughawe!
Shame. Ek koop toe ook sommer een van daai smart swangerskaptoetse, die elektriese een en daar kom toe wragtig 'n smiley op die klein skerm, saam met die woorde 2 - 3 weeks.

Maar ons geluk was baie gou kortgeknip. Ons het klaar ons ouers laat weet daar is 'n klein bondeltjie oppad, maar twee dae na die toets begin ek krampe in my sy kry. Vreeslik seer. So seer dat ek vir Flip vra om my hospitaal toe te vat, waar ek gou in die A&E opgeneem word.

Ek verduidelik ek is swanger, positiewe toets ens maar nou het ek hierdie pyn in my regter sy en daar is iets groot fout. 

Later eindig ons by die X-strale departement op, waar hulle 'n sonar doen en NIKS IN MY BAARMOEDER KRY NIE. "'n Baba wat twee tot drie weke is, moet al op die skerm verskyn, hierdie tegnologie is baie gevorderd," het die sonar tegnikus gesê.

Ek dink nie ek het al ooit so baie gehuil soos wat ek daai middag gehuil het nie, sommer so in die publiek. My hart was stukkend. Ons het lank daar gesit en wag en weer sonars gehad en elke keer het die nuus teruggekom dat daar niks in my baarmoeder is nie, dis leeg. Ek voel leeg.

Daar word gesê dis 'n ektopiese swangerskap, dat die embrio iewers op my eierstokke vas gaan sit het. Hulle gaan moet opereer, my eierstok ook verwyder. Ek word opgeneem in die hospitaal en op 'n drip vir die pyn gesit, die dokter kom in, doen weer 'n sonar en sien weer niks. Ek huil. Sy sê ons moet wag tot die volgende oggend, dan gaan sy op my kom inloer, as die pyn steeds daar is, word ek defnitief die middag geopereer.

Ek huil weer en die verpleegsters gee drukkies om te troos, maar drukkies help nie vir die hartseer nie. Die dokter gee my ook 'n drukkie en sê ek moet net bid. Ek slaap niks daardie aand nie. My Ma het deurgery van Pretoria af en saam my in die kraamsaal gesit en huil. Dag breek.

Die pyn is steeds daar, maar flouer. Dr Kabir is terug en neem weer bloed, die derde keer in 24 uur. My HCG telling is weer op, beduidend dat daar tog 'n swangerskap iewers is, maar waar weet niemand nie.

Dr Kabir sê toe sy gaan my ontslaan, want sy glo daar is 'n babatjie oppad. "Kom oor 'n week en 'n half terug," sê sy. Sy druk my hand en sê: "Moenie ophou bid nie. Glo net in God."

Nou toe, soos julle in die fotos kan sien het ons 'n week en 'n half later teruggegaan dokter toe, en alhoewel die pyn nooit verdwyn het nie, het daar op daai sonar daai dag 'n klein wit spikkeltjie verskyn, skaars groter as 'n kopspeld.

En hier, 'n jaar later sit daardie spikkel in my arms. God is groot. 




Theme created by PIXELZINE