En nou vir iets nuuts...

Friday, April 18, 2014

Vandag gaan ek my blog in Afrikaans skryf, want dit is immers my eerste taal en die tema wat ek wil aanraak benodig dat ek Afrikaans skryf.



Daar is 'n vernuwing in die Suid Afrikaanse film industrie, wat my kinderlike opgewonde maak. Dit skram weg van die platvloerse 'slapstick komedies van ouds, dink byvoorbeeld Leon Schuster se flieks, asook Lipstiek Dipstick en enigiets anders wat uit die vulgere pen van Willie Esterhuizen spruit.

Daar was wynig iets anders op die mark sedert Katinka Heyns se Paljas in 1998 en amper niks voor dit. Maar wat deesdae in die industrie gebeur is ook heeltemal anders as die diep dramatiese flieks soos Wolwedans (moenie dat ek eers uitbrei oor die tragedie van 'n fliek nie), Veraaiers en so meer. Hoekom hou Afrikaanse skrywers van sulke swaar, donker en moeilike temas? Is dit wat dan verkoop?

Blykbaar nie. Die vernuwing, vir my, het begin met Semisoet in 2012 - 'n prettige en snaakse fliek wat gebasseer is op jou Hollywood 'romcom's maar met 'n lekker Afrikaanse - selfs Kaapse - draai. Ek het die fliek verskriklik geniet en dit het my lus om Afrikaanse flieks te kyk opgewakker. My arme man sug net as ek noem dat daar weer 'n Afrikaanse fliek gaan uitkom.



Na Semisoet het uitstekende flieks soos As Jy Sing en Klein Karoo gevolg. Lekker flieks wat jou net so lekker laat skaterlag.

Daar was hier en daar ook 'n paar folterings, soos die onwaarskynlike storielyn van  Pad na jou Hart, die langdradige advertensie-blaps wat Vrou soek Boer as uitgedraai het en die totale flop van Musiek vir die Agtergrond.

Alhoewel al die flieks die potensiaal gehad het om fantastiese flieks to kon wees, was daar fatale foute in die draaiboeke. Soos Musiek vir die Agtergrond wat vir amper drie kwart van die fliek net uit die Heyto Potato liedjie bestaan het. Walglik.

Nog iets wat pla van die bedryf is dat dit voel of daar net 'n paar akteurs in die land is, met Nico Panagio (hierbo) wat al wat manlike hoofrol is opraap. Dit moet binnekort verander, want mense gaan begin deurmekaar raak.

Maar, daar is 'n uiterse helder silwer randjie om die donkerwolk wat Mollie en Wors, Liefling en Vaatjie sien sy Gat uitgereen het. Flieks wat sommer so in 'n ry die maand uitkom en uiters belowend lyk sluit Konfetti en Die Windpomp in. Later is daar ook Mooirivier, wat tans in Potch geskiet word.

Berigte beskryf Mooirivier as die Suid Afrikaanse weergawe van Love Actually - 'n fliek waaroor baie mense gaande is. Ek sien uit na die fliek, maar hoop nie dit is 'n perfekte ets van sy inspirasie nie.

Verder gaan Die Windpomp hopelik 'n meesterstuk wees. Dit blyk of dit in die styl van Wes Anderson se flieks kan wees - van wat ek in die voorskou gesien het en het al reeds talle pryse ingeryg. Loer gou na die trailer.


Die vervaardiger van die fliek, 'n Amerikaner genaamd Chris Roland, wat ook verantwoordelik was vir Hotel Rwanda en Stander, het in mediaberigte genoem dat hy 'n Hollywood-kwaliteit fliek vir die Afrikaanse gehoor wou maak, al kan hy self net 'Boer maak 'n plan' uiter.

Van Konfetti, skryf fliekfundi Leon van Nierop, dat dit "skreeusnaaks en slim" is en dat dit "gesofistikeerd en trots Afrikaans is - al is daar dan nou ook baie Engelse dele. Nou toe nou.

Met die kwaliteit flieks wat nou uitkom is daar baie vir Afrikaanse mense om na uit te sien, en dit gaan net beter word! Maak seker jy ondersteun die flieks en gaan kyk hulle in die teaters, want local is mos lekker!

1 comment:

CharlieW said...

Jy mag maar in Afrikaans skryf girl! Dit was 'n plesier om te lees! xx

Theme created by PIXELZINE